Wednesday, January 27, 2010

Koebergweg (A 16)

Name: Koebergweg

Google count: 1,530 for Koebergweg with Safesearch on.
Date: 28 January 2010

Historic fact:

Other interesting info:

Die hekse van Koebergweg

(Nog stories soos die een by http://lindathreehairs.com/Die%20hekse%20van%20Koebergweg.htm

Die hekse van Koebergweg, Milnerton, sluimer of slaap nie.

Inteendeel. Hulle spandeer hulle dae in Salon Sleeping Beauty. Waar hulle hare kap, kleur en kasty.

Die hoof-heks is Joelle. (Dit kom vanaf die woorde “Jou hel” wat haar man haar toegesnou het kort voor sy dood) Sy is die vet vrou wat haarself uitgee as ’n haarkleur-expert.

Sy’t noupas leopard-print spots in 'n kort, blinde vroutjie se hare gekleur.

Gelukkig sal die vrou dit nie kan sien nie.



Die ander hekse het nie name nie. Twee van hulle het sopas uitgeglip uit die salon, vir ’n smokebreak.

Hulle vat hulle smokebreaks in die hoek van die winkelsentrum se parkeergarage. Naby die garage-wag se hokkie. Waar dit donker is, en na piepie ruik.

Mens skrik nogal wanneer jy hulle daar sien.

Want hulle kyk jou ’n barshou. En van groet weet hulle nie.



Die onder-hoofheks kan uitgeken word aan ’n gebleikte streep in haar raafswart haardos.

Of miskien is dit ’n bliksemstraal wat haar by geboorte getref het: “Dé. Hiesa. Jy's ’n heks ...”

Om die hekserige effek te versterk, dra sy middernagswart Goth-outfits, en ’n swartraambril. Dit lei die aandag van haar dik enkels weg. Of só glo sy.



Die junior heks lyk die normaalste. Sy't chocolate-bruin krulletjieshare, waarvan die agterste gedeelte pers gekleur is.

Sy't in ’n kort rukkie by die salon reeds die volgende aangeleer:

Hoe om mense se hare snaaks te kleur.

Asook die gawe van “niks voel vir my kliënte.”

Die hekse woon almal buite die munisipale distrik van Milnerton, aangesien hulle nie lus is om in hul vrye tyd in die geskende bakkies van hulle kliënte vas te kyk nie.

Hoofheks Joelle woon in Bothasig.

Sy's ’n oondvars weduwee. En nog bietjie sensitief oor die aangeleentheid.

“Het ek met my gawe van vervloek vir Berthus kanker gegee?” het sy vanoggend oor ’n koppie tee vir die onder-hoofheks gevra.



Toe sy die koppie wou neersit, het dit vir ’n oomblik aan haar kersieboord-rooi lippe gekleef.

Soos spookasem.

“Jy weet, onder-hoofheks,” het sy voortgegaan asof niks gebeur het nie:

“Ek kom uit ’n familie van heiliges.

“My ma was ’n heks. En my tante was ’n heks.

“Hulle het heksery in Donker Afrika beoefen.

“Ek het die gawe om mense te vervloek en te laat sterf aan tromboses en bankrotskap van hulle gekry.”



Toe sy sien sy't ’n audience, het sy voortgeborduur.

“Ek voel so rusteloos op ’n Saterdagmiddag.

“Dis asof iets my dryf wanneer ek die salon sluit.

“Ek ry net rond en rond. En wanneer ek by die huis kom, vlieg die kraaie in kringe bo-oor my huis om my welkom te heet.”



Die gesprek word onderbreek deur ’n verwoede kliënt. Sy't haar hare die vorige dag by Salon Sleeping Beauty laat kleur. Sy was grys en het gevra vir ’n bruin- of swartkop. Pretty please.

Toe verf die hoofheks haar hare oranje.

En sy los vir die snaaksigheid ’n grys kuifie.



Om alles te kroon het die sjampoo-heks (wat die afspoel gedeelte van die operasie behartig) nie gebodder om die kleursel van haar wange af te was.

En nou sit die kliënt met oranje wange.



“Sigaret-as vat dit af!

“En haarsprei!” skree die sjampoo-heks vanaf die wasbakke.

Sy's ’n maer, mallerige vrou wat graag die Golden Oldie “How much is that doggy in the window?” sing terwyl sy die kliënte se hare afspoel.


Die sjampoo-heks kom spuit ’n skoot Elnette-haarsprei op die kliënt se oranje wang. Hierna vryf sy hard met ’n sponsie daaroor.

Nou is die wang nóg meer van 'n oogseer.

En die kliënt stap woedend uit die salon.

Die hekse lag tog te lekker onder mekaar.
“Hee hee hee hee!
“Hie hie hie hie hie!

“Oe alla mapstieks!
“Mammie!”



Mens kan die huidige situasie verstaan as jy hoofheks, Joelle, se lewensverhaal ken.
Joelle kom van Riversdal in die Suid-Kaap - doer, aan die voete van Sleeping Beauty-berg.
Sy’t dit egter so hittete nie gemaak Moederstad toe nie, nadat sy haar kar een Saterdagmiddag omgekeer het, toe sy van ’n braai terugry huis toe.

Sy't in die provinsiale hospitaal op Riversdal se ICU beland.



Joelle se ma het min hoop vir haar gehad. Sy het reeds haar grafboodskap gekies by die Coastal Graveworks in Mosselbaai.

“Die mot wat die hoogste vlieg, brand die vroegste in die kersvlam.”



Maar net die volgende dag het Joelle haar dowwe bruin kykers oopgemaak. En die res van die storie is geskiedenis, soos die mense sê.

Hierna het Joelle ’n vet uitbetaling van die Road Accident Fund gekry, en verhuis Moederstad toe.



Sy was 'n nuwe mens. Picky!

Sy het net moddervet stylists gesoek. Vroue wat die skaal by 200 pond laat bewe, asof die skaal kouekoors het.

En as hulle dik enkels en spatare had, was dit ’n bonus.

Mense het na die stylists verwys as “Joelle se koeie.”

En tog was die salon ’n sukses.



Die salon se stapelvoedsel is ’n klomp ou ladies van Huis Herfsblaar in Ysterplaat. Hulle is te swak om te loop en te arm om self kar te ry.

Instede daarvan word hulle Vrydae aangery na die Sleeping Beauty Salon. Hier, kry elkeen ’n was en set wat hulle die res van die week hou.

Die ou ladies se kapsels word so styf gespuit in ’n tipe helmet, dat selfs die Swart Suidooster nie ‘n haartjie uit sy plek kan kry nie.

Daar's nog ander getroue kliënte. Soos die hupse weduwee, Kanker Annie.

Haar man het hom tien jaar gelede oor die etensuur doodgeskiet.

En sy vertel tog te graag die storie van daardie dag wanneer sy haar hare kom laat doen.

Maar vandag moet Joelle eenvoudig die streep trek en sê:



“Tot hierso. En nie verder.

“As Kanker Annie nou vir ’n sjampoe kom, moet julle sê nee.


“Ek vat niemand na twee.


“Ek moet ook afkry.

“Ek wil in my kar klim, en net rondry, en rondry.”

En dan sing sy stuitig: “Aai, aai, die witborskraai, hiervandaan na Mosselbaai!”



Die sjampoo-heks bly laaste.

Op haar breë skouers rus groot verantwoordelikheid. Sy moet die hopies hare van die vloer af opvee en uitsorteer.

Poedelhare, dié kant. Doberman-pincherhare, dié kant. Dooie worshondhare, daai kant. Wildehondhare, daai kant.

Mens kan net wonder wat aangaan by daardie salon.





Where to stay:

No comments:

Train